Ontstaan

Die Afri-Duet verhaal het begin op 'n Saterdagoggend in September 2013 toe die sangpaar/egpaar Willie en Natasha Joubert die gaskunstenaars was by die Gereformeerde kerk Andeon se 25ste jaarlikse Jakarandatee. Hul gevoelvolle optrede was die inspirasie wat die Duetfees-konsep by Andeon en Bergsig se predikant, Ds. Cassie Aucamp laat posvat het. Die mooiste instrumente wat die Here ons gegee het is die volmaakte harmonie tussen die twee stemme van 'n man en 'n vrou. 

Die twee kerkrade en gemeentes het onmiddellik hierdie idee aangegryp en voor die einde van die jaar was die datum vasgemaak vir Vrydag 24 Oktober 2014. Die Aula is bespreek as die eerste venue en die keuringsproses om die regte kombinasie van duetpare te kry het begin.

Afri-Duet 2014

Duetfees 2014

Vanselfsprekend was Willie en Natasha (wat in Mei daardie jaar 'n tweeling ryker geword het!) die eerste keuse vir 'n duetpaar. 'n Groot vis is nadergesleep toe Jannie Moolman en Corlea Botha instem om die tweede paar te wees. Die derde paar was die glanspaartjie van Burgerd Botha, vroeër van Romanz en sy bruid van 'n paar maande, Zita Pretorius.

As aanbieders sou Ds. Cassie self en Nadia Beukes optree. Groot was die verrassing vir die gehoor toe Nadia en pa Rouel Beukes die aand ook as duetpaar 'n toegif van twee liedere gegee het. Intussen het ons besluit om by elke duetfees 'n nuwe duetpaar bekend te stel. Vir 2014 sou dit Henry van Dyk en Helena Ceronio wees.

Die aand het alle verwagtinge oortref. Nie net was die Aula uitverkoop nie, maar elk van die 1000 konsertgangers was dit eens dat ons hier 'n uiters professionele produksie het wat enig in sy soort, by selfs ons makro-konserte kon kers vashou.

'n Kaas-en-Wyn, voorberei deur die susters van Kameeldrift, is aangebied vir 200 gaste wat ook daarvoor bespreek het. Kort voor lank toe kuier die helfte van die 1000 gaste heerlik saam!

Ons geledere versterk

Twee belangrike toevoegings tot die Afri-Duet geselskap het in 2014 onverwags gekom. Die eerste was Engeli le Roux, wat vir 'n paar liedere Jannie se begeleidster op die klavier sou wees. Daarna is sy nog elke jaar die anker van ons begeleidingsgroep wat intussen uitgebrei het tot klavier, orrel, viool en tjello. Die tweede was Johnnie Heinemann van Bliss on Stage (nou Multi Media) wat vir elke Duetfees se uitstekende klank, beligting, kontinuïteit en verhoog sou sorg.

Nog twee belangrike verwikkelinge het plaasgevind. Pretoria FM (toe nog Radio Pretoria)  was so aangegryp deur die Duetfeeskonsep dat hulle amper spontaan die eksklusiewe mediavennoot geword het. Nog elke jaar was hulle mediadekking en onderhoude met kunstenaars en aanbieders van onskatbare waarde. Dan het die FAK ook toegetree as kultuurvennoot wat oor hul wye netwerk waardevolle bemarking vir ons sou doen en later ook die Afri-Duetverhoog sou kies om van hul belangrike musiektoekennings te doen.

Afri-Duet 2015

Duetfees 2015


In 2015 het die Duetfees na die gesellige ZK Matthews Ouditoreum by UNISA verskuif. Weer was die 1000 kaartjies uitverkoop, die meeste eenvoudig die vorige jaar se konsertgangers wat klaar van die fees 'n jaarlikse hoogtepunt gemaak het.

Stil en agter die skerms het die Suid-Afrikaanse operaster en nou bekende stemafrigter, Mauri Mostert deel geword van Afri-Duet. Vier van die sangers was haar leerlinge en die duetfees en sy liedere het 'n integrale deel van haar afrigting geword. Twee van die vier was Nico Strydom en Charlotte Kilian, wat self vyf jaar in Italië opera gedoen het. Hulle was die nuwelingpaar, en wie sal vergeet hoe hulle met Barcelona direk na pouse as't ware die show gesteel het.

Die vorige jaar se nuwelinge, Henry en Helena, was nou 'n volwaardige duetpaar. Weer was Jannie en Corlea daar, en Willie en Natasha was hierdie jaar nie net een van die duetpare nie, maar self ook die aanbieders wat met 'n besondere sprankel gelei het. Die veelsydige Chris Chameleon en die liefde van sy lewe, Daniella Deysel, was die ander duetpaar.

Die aand het weer al die verwagtinge oortref, en die kaas-en-wyn op die dak van die Unisagebou het geskied onder die oop hemel met 'n wonderlike uitsig oor die Jakarandastad se liggies.

Afri-Duet 2016

Duetfees 2016

 

Afri-Duet 2016 is weer in die ZK Matthews gehou. Kaartjies was in September reeds uitverkoop. 

Nico en Charlotte was 'n logiese keuse. Louis Loock van Romanz-faam het stemme saamgesnoer met die bekende Anna Davel. Die verrassing van die aand was dalk Nicholis Louw wat hierdie keer die rock kitaar verruil het vir sy pragtge klassieke baritonstem. Hy het saam met Liezel Pieters opgetree. Die vermaarde violis Evert van Niekerk het 'n ekstra kleur aan Engeli se uitstekende begeleiding gegee, terwyl Leon Greyling die unieke pyporrel tot volle reg laat kom het. Ds. Cassie en Helena Ceronio was hierdie keer die aanbieders.

Die hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld die alombeminde Anneli van Rooyen. Sy het 'n eretoekenning van die FAK ontvang. Elke duetpaar het een van haar trefferliedere gesing. Toe dit Nicholis se beurt was met Neem my saam was die gehoor in vervoering toe hy Anneli uit die gehoor oproep om sy duetmaat te wees! Na die toekenning het al die kunstenaars haar saam haar eie seënbede Die Here is voor jou toegesing, waarna die hele gehoor met Psalm 134 se seënbede ingeval het.

Die onthaal was hierdie keer aarbeie, likeur en roomys, en die reën het veroorsaak dat die ZK se grondvloer foyer so vol was soos nooit tevore nie. Elke feesganger was dit eens dat Afri-Duet 2016 dalk die hoogtepunt van die feeste was.

Afri-Duet 2017

Die belangstelling vir 2017 was so groot dat ons besluit het om die volgende aand, Saterdag 21 Oktober, 'n tweede vertoning te hou. Vir die Vrydagaand was 905 van die 1000 kaartjies teen einde Mei reeds uitverkoop. 'n Derde vertoning is 'n week later in Pietersburg gehou

Nico en Charlotte het die gesogte driekuns voltooi.n Louis Loock en Anna Davel het hul unieke vennootskap verstewig. Nicholis was weer daar, hierdie keer met die jong Loriska Bubb aan sy sy. (Ongetwyfeld die verassing van die aand). Die immergroen Manuel Escorcio en sy duetmaat van die afgelope drie jaar, Belia Lourens, was die vierde paar en Cassie en Helena weer die aanbieders. Helena en Henry was die "impakspelers" met 'n paar treffers.

Carel Henn met die tjello het die begeleidingspan van Engeli le Roux (klavier), Evert van Niekerk (viool) en LeonGreyling (orrel) versterk.

Die hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld die wyse waarop ons duetpare die FAK-toekenning aan Carike Keuzenkamp iets onvergeefliks gemaak het. Haar verhaal is met haar eie liedjies vertel, van Timothy en Lang maer Blondeman tot Byeboerwa en Sarah de Jager. Carike se opmerking na die tyd: Ek het nooit geweet my liedjies is so mooi nie! Beskeie soos net sy kan wees wou sy nie inwillig vir 'n duetoptrede nie, maar slegs om Daar's 'n Land in Suiderland saam met die hele groep te sing. Ons uitgeslape klankmanne het natuurlik een mikrofoon bietjie uitgelig en Carike se klokhelder stem het die ensemble se samesang 'n onvergeetike kleur gegee.

Afri-Duet 2018

Afri-Duet 2018 word allerweë bestempel as die beste een nog. Uit verskillende duetpare met verskillende stye is 'n program saamgestel wat 'n geheel-eenheid gevorm het. Willie en Natasha was na 'n jaar se rus terug met hul unieke, egte romantiese sprankel. Nicholis en Loriska was weer hier, en Louis Loock en Anna Davel het die gesogte driekuns voltooi. 'n Nuwe duetpaar was Burgerd Botha en Charlise Berg, en die kombinasie, deur Afri-Duet bymekaargebring, het soos 'n bom gewerk. 'n Unieke nuwe aanslag, en in geheel 'n bietjie ligter program as in die verlede.

'n Hoogtepunt was die FAK toekening aan Manuel Escorcio. Hy is vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Sy nuwe CD, My Land my Lied, is by die Duetfees deur die FAK uitgereik en bekendgestel. Dit bevat 16 FAK-liedere, begelei deur die Kaapstadse Simfonie-orkes. Manuel het die een enkele eksemplaar gehad wat van die opname bestaan het. Met Afri-Duet se inisiatief en die FAK se bemiddeling, is die prag CD uitgereik. Ons Duetpare het veral duette van Manuel en Janita Claassen saamgesing. Sy is ook posthuum deur die FAK vereer, en 'n Janita Claassen roos is aan 'n emosionele Manuel oorhandig. Treffend dat hy toe juis Die Roos van S le Roux Marais uit die nuwe album gesing en aan haar opgedra het.

Nog iets besonders van Afri-Duet 2018 was die laaste deel van die program wat bestaan het uit verskillende seënbedes wat eers die duetpare en daarna die hele groep die gehoor toegesing het. Natuurlik is die Afri-Duet tadisie voortgesit toe die aand afgesluit is met die Onse Vader uit 'n duisend  stemme. Dit was ons dankbare voorreg om na vyf jaar die beproefde Afri-Duetresep met elke keer 'n nuwe verassende aanslag aan ons gehoor te bied.

2019 Afri-Duetfees